Matzikama Munisipaliteit Verordening op Verkeer, 2010


Matzikama
South Africa

Matzikama Munisipaliteit Verordening op Verkeer, 2010, 2011

Om vir die regulering van openbare vervoer en verkeer in die regsgebied van die Matzikama Munisipaliteit voorsiening te maak; en om vir aangeleenthede wat daarmee gepaard gaan, voorsiening te maak.

Aanhef

NADEMAAL artikel 156(2) van die Grondwet bepaal dat ’n Munisipaliteit verordeninge kan uitvaardig en administreer vir die doeltreffende administrasie van die aangeleenthede wat hy die reg het om te administreer;EN NADEMAAL die Munisipaliteit die bevoegdheid het om verordeninge ten opsigte van munisipale openbare vervoer, en verkeer en parkering in ooreenstemming met onderskeidelik Deel B van Bylae 4 en van Bylae 5 van die Grondwet te maak;WORD DAAR NOU soos volg deur die Raad van die Matzikama Munisipaliteit VERORDEN:

1. Woordomskrywing

In hierdie Verordening, tensy uit die samehang anders blyk, beteken—"bedryfslisensie" ’n bedryfslisensie ("operating licence") soos omskryf in artikel 1 van die Wet op Nasionale Landvervoer, 2009 (Wet Nr. 5 van 2009);"bestuurder" iemand wat ’n voertuig bestuur of probeer bestuur of wat op ’n trapfiets ry of probeer ry of wat ’n trek-, pak- of rydier of ’n kudde of trop diere rondlei, en "bestuur" of enige soortgelyke woord het ’n ooreenstemmende betekenis;"beweegruimte" met betrekking tot ’n taxi, ’n plek, buiten ’n staanplek, waar ’n taxi bly totdat ruimte daarvoor by ’n staanplek of stilhouplek beskikbaar is;"bus" ’n motorvoertuig ontwerp of aangepas om meer as 35 persone met inbegrip van die bestuurder te vervoer;"eienaar", met betrekking tot ’n voertuig(a)die persoon wat die reg op die gebruik en genot van ’n voertuig ingevolge die gemene reg of ’n kontraktuele ooreenkoms met die titelhouer van sodanige voertuig het;(b)iemand in paragraaf (a) bedoel, vir enige tydperk waartydens so ’n persoon versuim om daardie voertuig kragtens die kontraktuele ooreenkoms bedoel in paragraaf (a) aan die titelhouer terug te besorg; of(c)’n motorhandelaar wat in besit is van ’n voertuig vir die doel van verkoop, en wat as sulks geregistreer is ooreenkomstig die regulasies kragtens artikel 4 van die Wet, en "besit" of enige soortgelyke woord het ’n ooreenstemmende betekenis;"gemagtigde amptenaar" ’n werknemer van die Munisipaliteit wat ingevolge hierdie Verordening verantwoordelik is om enige plig of funksie te verrig, of gedelegeer is om enige plig of funksie te verrig;"gemagtigde beampte" ook—(a)’n persoon in diens van die Munisipaliteit wie se plig dit is om lisensies te inspekteer, voertuie te ondersoek, vir bestuurderslisensies te toets, of ’n persoon wat ’n verkeersbeampte of ’n padverkeerswetstoepassingsbeampte is, en ook enige ander persoon wat deur die Minister van Vervoer by regulasie wat ingevolge die Nasionale Padverkeerswet uitgevaardig is, tot gemagtigde beampte verklaar is; en(b)’n persoon wat deur die Munisipaliteit as ’n inspekteur aangestel is soos bedoel in artikel 86 van die Nasionale Padvervoerwet, 2009 (Wet Nr. 5 van 2009);"houer", met betrekking tot ’n staanplekbewys, die eienaar aan wie ’n staanplekbewys ingevolge artikel 3(2) uitgereik is;"lokking" die werf van passasiers vir ’n taxi deur te skreeu, te toet, te fluit of deur enige ander gedrag, en "lok" het ’n ooreenstemmende betekenis;"motorvoertuig" enige selfgedrewe voertuig en ook—(a)’n sleepwa; en(b)’n voertuig met pedale en met ’n enjin of ’n elektriese motor as ’n integrerende deel daarvan of daaraan geheg en wat ontwerp of aangepas is om deur middel van sodanige pedale, enjin of motor, of sodanige pedale en enjin of motor, aangedryf te word, maar nie ook—(i)’n voertuig wat aangedryf word met elektriese krag verkry uit opgaarbatterye en wat deur ’n voetganger beheer word nie; of(ii)’n voertuig met ’n massa van hoogstens 230 kilogram en wat spesiaal ontwerp en gebou, en nie net aangepas is nie, vir die gebruik deur iemand wat aan een of ander gestremdheid of ongeskiktheid ly en wat uitsluitlik deur sodanige persoon gebruik word;"Munisipaliteit" die Matzikama Munisipaliteit wat by Provinsiale Kennisgewing 479 van 2000 ingevolge artikel 12 van die Ordonnansie op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture, 1998 (Wet Nr. 117 van 1998), ingestel is;"nie-gemotoriseerde voertuig" ’n voertuig of toestel wat vir padgebaseerde vervoer vir die karwei van goedere of passasiers gebruik word en wat aangedryf word deur, of uitsluitlik deur, dierekrag of deur mensekrag of ’n kombinasie van mensekrag, bygestaan deur ’n alternatiewe kragbron of krag wat deur enige vorm van dieselbrandstof verskaf word;"openbare vervoerdiens" ’n geskeduleerde of ongeskeduleerde diens vir die vervoer van passasiers per pad hetsy onderworpe aan ’n kontrak of nie, en waar die diens teen reisgeld of ’n ander teenprestasie of beloning verskaf word, insluitende "cabotage" ten opsigte van passasiersvervoer soos omskryf in die Wet op Oorgrenspadvervoer, 1998 (Wet Nr. 4 van 1998) en, buiten waar duidelik onvanpas, moet die term "openbare vervoer" dienooreenkomstig vertolk word;"openbare vervoervoertuig" ’n openbare motorvoertuig wat gebruik word om passasiers of goedere teen huur of beloning te vervoer, en dit sluit busse en taxi’s in;"parkeer" om ’n voertuig, met of sonder insittendes, langer te laat stilhou as wat redelikerwys nodig is om persone of goedere werklik op of af te laai, maar nie ook die stilhou van ’n voertuig weens ’n rede buite die beheer van die persoon in beheer van daardie voertuig nie;"permit" ’n permit soos omskryf in artikel 1 van die Wet op Nasionale Landvervoer, 2009 (Wet Nr. 5 van 2009);"Raad" die raad van die Munisipaliteit;"randsteenlyn" die grens tussen die skouer en die soom of, as daar nie ’n skouer is nie, die deel tussen die kant van die ryvlak en die soom;"ryvlak" daardie gedeelte van ’n pad, straat of deurgang wat vir voertuigverkeer verbeter, gebou of bedoel is en wat tussen die kante van die ryvlak is;"skouer" daardie gedeelte van ’n pad, straat of deurgang tussen die kant van die ryvlak en die randlyn;"staanplek" met betrekking tot ’n taxi, ook—(a)’n openbare vervoerwisselaar of ’n plek op ’n openbare pad vanwaar ’n taxi vir huur kan ry of passasiers vir beloning vervoer en afgelaai kan word; en(b)enige plek wat deur ’n padverkeersteken aangewys of afgebaken is as ’n taxistaanplek of vir die uitsluitlike parkering van taxi’s;"staanplekbewys" ’n staanplekbewys uitgereik ingevolge artikel 3;"stilhouplek" met betrekking tot—(a)’n taxi, ’n plek wat deur die Munisipaliteit aangewys is waar ’n taxi mag stilhou om passasiers op of af te laai; en(b)’n bus, ’n afgebakende stilhouplek waar ’n bus mag stilhou om passasiers op of af te laai;"taxi" ’n openbare motorvoertuig buiten ’n openbare bus wat gebruik word om passasiers of passasiers en goedere teen huur of beloning te vervoer, soos ’n minibus of ’n midibus, en sluit taxi’s met meters in;"taxifasiliteit" ’n beweegruimte, spesiale parkeerplek, stilhouplek, staanplek, terminus en enige ander fasiliteit wat spesifiek deur die Munisipaliteit geïdentifiseer en aangewys is vir die uitsluitlike gebruik van taxi’s;"taxistaanplek" enige plek wat deur ’n padverkeersteken aangewys of afgebaken is as ’n taxistaanplek vir die uitsluitlike parkering van taxi’s;"taxiwag" ’n persoon wat in ’n openbare plek of op ’n openbare pad ’n parkeeroppasserdiens vir taxibestuurders verrig, wat insluit—(a)die aanwys of aandui van beskikbare parkeerruimte; of(b)die oppas van voertuie;"vir huur ry" die gebruik van ’n voertuig om passasiers vir huur of beloning te vervoer;"voertuig" ’n toestel ontwerp of aangepas om hoofsaaklik op wiele of rusperbande te loop en ook so ’n toestel wat met ’n trekstang aan ’n teëspoedwa verbind is en gebruik word as deel van die sleeptoerusting van ’n teëspoedwa om enige of al die asse van ’n motorvoertuig wat geberg word, te ondersteun, behalwe so ’n toestel wat uitsluitlik op spore beweeg;"Wet" die Nasionale Padverkeerswet, 1996 (Wet Nr. 93 van 1996).

Hoofstuk 2
Parkering

2. Parkeer en vir huur ry

(1)Behoudens subartikel (2), mag ’n taxibestuurder wat vir huur ry of passasiers op- of aflaai, ’n taxi net by ’n taxistaanplek of ’n parkeerplek wat vir taxi’s afgebaken is, parkeer.
(2)Ondanks subartikel (1), kan die Munisipaliteit in noodgevalle of by ontspannings- en ander soortgelyke funksies tydelike taxifasiliteite wat deur die gemagtigde beampte as geskik vir die parkeer en stilhou van taxi’s geïdentifiseer is, opsy sit.
(3)Geen taxibestuurder mag ’n taxi parkeer op ’n stilhouplek of enige anderplek wat nie vir taxi’s afgebaken is nie.
(4)Geen taxibestuurder mag, buiten met die skriftelike magtiging van die betrokke bedryfslisensie-owerheid, die toegewese roete verlaat en kortpad deur gemeenskapspaaie neem met die doel om vir huur te ry of te ry om passasiers op of af te laai nie.

3. Staanplekbewyse

(1)Niemand mag met ’n taxi by ’n taxistaanplek staan nie, tensy ’n staanplekbewys ten opsigte van sodanige taxi ingevolge subartikel (5) aan hom of haar uitgereik is nie.
(2)Daar mag nie aan iemand ’n staanplekbewys uitgereik word nie, tensy hy of sy die volgende voorsien:
(a)’n gesertifiseerde afskrif van die bedryfslisensie of openbare permit;
(b)’n gesertifiseerde afskrif van ’n padwaardigheidsertifikaat;
(c)’n identifikasiedokument of bestuurderslisensie;
(d)registrasiedokumente van die voertuig; en
(e)’n ondersteuningsbrief van die toepaslike vereniging.
(3)Daar mag nie aan iemand ’n staanplekbewys uitgereik word as daar lasbriewe vir die betaling van verkeersboetes teen hom of haar uitstaande is nie.
(4)Die staanplekbewys wat in subartikel (1) bedoel word, is geldig vir ’n tydperk van 12 maande vanaf die datum waarop dit uitgereik is.
(5)Die gemagtigde amptenaar moet, behoudens subartikels (2) en (3), ’n staanplekbewys ten opsigte van ’n staanplektaxi uitreik wat die volgende spesifiseer:
(a)die taxistaanplek waarvoor die staanplekbewys geld;
(b)die tydperk waarvoor sodanige staanplekbewys toegestaan word;
(c)die registrasienommer wat aan die betrokke voertuig toegeken is;
(d)die fabrikaat van sodanige voertuig;
(e)ten opsigte van taxi’s met meters, die nommer van die taximeter wat vir gebruik in sodanige voertuig goedgekeur is;
(f)die bedryfslisensienommer van die voertuig; en
(g)ten opsigte van taxi’s, die roetes waarvoor sodanige voertuig magtiging het om vir huur te ry.
(6)’n Aansoek om goedkeuring van ’n staanplekbewys moet aan die gemagtigde amptenaar voorgelê word—
(a)deur die eienaar; en
(b)in ’n vorm soortgelyk aan die vorm wat in die Bylae vervat is.
(7)Die gemagtigde amptenaar mag een staanplekbewys vir elke taxi uitreik.
(8)Behoudens artikel 77 van die Wet op Nasionale Landvervoer, 2009 (Wet Nr. 5 van 2009), moet die eienaar aan wie ’n staanplekbewys uitgereik is, die gemagtigde amptenaar binne 7 dae na die gebeurtenis skriftelik in kennis stel van—
(a)enige verandering in sy of haar adres gedurende die bedryfstydperk waarvoor sodanige staanplekbewys uitgereik is;
(b)die verkoop van sodanige taxi of beëindiging van eienaarskap daarvan gedurende sodanige tydperk;
(c)die naam en adres van die persoon aan wie dit verkoop is; en
(d)die rede waarom hy of sy ophou om die eienaar te wees.
(9)Die eienaar moet aan die Munisipaliteit ’n bedrag, wat van tyd tot tyd deur die Raad vasgestel word, betaal vir die gebruik van elke staanplekbewys wat ingevolge hierdie artikel uitgereik word.
(10)Niemand mag ’n staanplekbewys vervals, naboots, ontsier, skend, verander of ’n merk daarop maak nie.

4. Plek waar staanplekbewys geldig is

(1)Niemand mag, buiten met die skriftelike toestemming van ’n gemagtigde beampte, met ’n taxi vir huur ry vanaf enige ander plek as die roete, taxistaanplek of ander plek wat gespesifiseer word op die staanplekbewys wat ingevolge artikel 3(5) ten opsigte van sodanige taxi uitgereik is nie.
(2)Niemand mag—
(a)’n staanplekbewys op ’n ander voertuig as die taxi ten opsigte waarvan dit uitgereik is, aanbring nie; of
(b)met ’n taxi vir huur ry nie—
(i)tensy die staanplekbewys wat ten opsigte van sodanige taxi vir die huidige jaar uitgereik is, links op die voorruit daarvan aangebring is sodat die voorkant van die bewys duidelik van buite af sigbaar is;
(ii)terwyl enige ander staanplekbewys as die staanplekbewys wat ten opsigte van sodanige taxi vir die huidige jaar uitgereik is, daarop aangebring is; of
(iii)terwyl enige staanplekbewys wat nie meer geldig is nie, op so ’n taxi aangebring is.

5. Staanplekbewys moet op aanvraag getoon word

(1)Die houer van ’n staanplekbewys wat ingevolge hierdie Verordening uitgereik is, moet—
(a)sodanige staanplekbewys in ’n goeie en leesbare toestand in stand hou; en
(b)te alle tye wanneer sodanige voertuig as ’n taxi bedryf word, in die motorvoertuig waarop dit betrekking het, hou en vertoon.
(2)Enige gemagtigde beampte van die Munisipaliteit kan die bestuurder van ’n taxi aansê om te stop en hom of haar vra—
(a)om die staanplekbewys wat kragtens die bepalings van hierdie Verordening vereis word, te toon; en
(b)om sy of haar volle naam en adres en ook die naam en adres van die eienaar of operateur van sodanige taxi te verstrek.
(3)Geen bestuurder wat in subartikel (2) bedoel word mag, wanneer hy deur ’n gemagtigde beampte aangesê word om dit te doen—
(a)weier om te stop nie;
(b)weier om sy of haar volle naam en adres te verstrek nie;
(c)weier om die korrekte naam en adres van die eienaar of operateur van die voertuig onder sy of haar beheer te verstrek nie;
(d)weier om ’n staanplekbewys te toon nie; of
(e)’n vals naam of adres gee nie.

6. Opskorting of intrekking van ’n staanplekbewys

(1)Indien die houer van ’n staanplekbewys skuldig bevind is aan ’n oortreding van hierdie Verordening, en ongeag of enige ander straf deur ’n geregshof opgelê is, kan die Munisipaliteit, behoudens artikel 7, nadat al die omstandighede van die geval in aanmerking geneem is, ingevolge subartikel (2) optree.
(2)Die Munisipaliteit kan, nadat al die omstandighede van die geval in aanmerking geneem is, ’n staanplekbewys opskort vir ’n tydperk wat deur die gemagtigde beampte bepaal word of die staanplekbewys intrek indien—
(a)die eienaar van die taxi
(i)nie aan ’n opdrag wat ingevolge hierdie Verordening uitgereik is, voldoen nie; of
(ii)nie die taxi te alle tye skoon en in ’n padwaardige toestand in stand hou nie; en
(iii)uitstaande arrestasielasbriewe vir die betaling van verkeersboetes het.
(b)’n gemagtigde beampte die taxi inspekteer en bevind dat die taxi
(i)op so ’n manier gebou is of in so ’n toestand is dat die taxi onveilig is vir die getal passasiers wat dit gemagtig is om te vervoer; of
(ii)nie voldoen aan die bepalings wat in hierdie Verordening of die Wet gespesifiseer word nie.
(3)Niemand mag ’n voertuig as ’n taxi by ’n taxifasiliteit gebruik of toelaat dat dit as ’n taxi by ’n taxifasiliteit gebruik word as die voertuig se staanplekbewys opgeskort of ingetrek is of verval het nie.
(4)As ’n bedryfslisensie deur die betrokke lisensie-owerheid opgeskort, gekanselleer of ingetrek is, word die staanplekbewys wat deur die Munisipaliteit uitgereik is, outomaties opgeskort, gekanselleer of ingetrek, na gelang van die geval.
(5)Indien die opskorting, kansellasie of intrekking van ’n bedryfslisensie op appèl na die betrokke owerheid omgekeer word, kan die Munisipaliteit ’n staanplekbewys heruitreik, onderworpe aan sekere gespesifiseerde voorwaardes.

7. Prosedure vir die opskorting of intrekking van ’n staanplekbewys

(1)’n Staanplekbewys mag nie opgeskort of ingetrek word nie, tensy—
(a)die gemagtigde amptenaar die houer van ’n staanplekbewys en enige taxivereniging waarvan die houer ’n lid is, minstens 14 dae skriftelik per gesertifiseerde pos kennis gegee het van sy of haar voorneme om die staanplekbewys op te skort of in te trek, en sodanige kennisgewing moet—
(i)die redes vir die beoogde optrede gee asook ’n afdoende verklaring wat die aard van die optrede uiteensit;
(ii)’n uitnodiging aan die houer van die staanplekbewys bevat om vertoë oor die aangeleentheid te rig;
(iii)’n adres vir die voorlegging van vertoë soos in subparagraaf (ii) bedoel word, gee; en
(iv)die datum, tyd en plek van ’n verhoor, wat nie minder nie as 28 dae vanaf die datum van die kennisgewing moet wees, om die opskorting of intrekking te oorweeg, gee, asook ’n aanduiding dat die houer vertoë mag rig en by die verhoor mag verskyn;
(b)die houer van ’n opgeskorte of ingetrekte staanplekbewys ’n geleentheid gegee is om of persoonlik of deur sy of haar behoorlik gemagtigde verteenwoordiger by ’n verhoor te verskyn en vertoë tot die Munisipaliteit te rig.
(2)Indien ’n houer van ’n staanplekbewys wat ’n kennisgewing ontvang het waarna in subartikel (1) verwys word, wil verskyn en die beoogde optrede wil teenstaan, moet hy of sy, binne 14 dae nadat die kennisgewing ontvang is of binne ’n verdere tydperk wat die Munisipaliteit kan toelaat, skriftelike vertoë per hand of per gesertifiseerde pos na die adres in die kennisgewing aangedui, indien.
(3)Na die verhoor waarna daar in subartikel (1) verwys word, moet die Munisipaliteit ’n beslissing gee oor die kwessie of die staanplekbewys opgeskort of teruggetrek word of nie, en die gemagtigde amptenaar moet nie later nie as 14 dae na die datum waarop die verhoor afgehandel is, die houer van sodanige staanplekbewys skriftelik van die redes vir die beslissing verwittig.
(4)’n Rekord van die verrigtinge tydens die verhoor waarna in subartikel (1) verwys word, moet die volgende insluit:
(a)die getuienis wat gegee is, indien enige;
(b)enige beswaar wat gemaak is teen enige getuienis wat ontvang of voorgelê is; en
(c)die beslissing wat tydens die verhoor gegee is.

8. Adresverandering

Die houer van ’n staanplekbewys moet die Munisipaliteit binne 14 werkdae na ’n adresverandering skriftelik per voorafbetaalde geregistreerde pos, telefaks of aflewering per hand daarvan in kennis stel.

9. Wysiging en vervanging van ’n staanplekbewys

(1)Behoudens artikel 3, indien die besonderhede wat op ’n staanplekbewys aangetoon word, inkorrek is as gevolg van ’n verandering van sodanige besonderhede of om enige ander rede, moet die houer van sodanige staanplekbewys dit aan die Munisipaliteit voorlê sodat dit gewysig kan word.
(2)Indien die staanplekbewys op so ’n wyse beskadig is dat die besonderhede daarvan nie met redelikheid vasgestel kan word nie, moet die houer van ’n beskadigde staanplekbewys dit aan die Munisipaliteit voorlê en die gemagtigde amptenaar kan sodanige beskadigde taxistaanplek op koste van die houer van die staanplekbewys vervang.

Hoofstuk 3
Verbode gedrag

10. Parkering by ’n bushalte

Niemand mag ’n voertuig by ’n bushalte parkeer of toelaat dat dit daar parkeer word nie.

11. Pligte van voetgangers

(1)’n Voetganger mag ’n openbare pad slegs by ’n voetgangeroorgang of by ’n kruising of op ’n plek verder as 50 meter vanaf sodanige voetgangeroorgang of kruising oorsteek.
(2)As daar ’n gemerkte voetgangeroorgang by ’n kruising is, mag ’n voetganger die kruising slegs binne die gemerkte voetgangeroorgang oorsteek.
(3)As daar ’n verkeersbeheerligsein ("robot") wat voetgangerseine bevat, by ’n kruising is, mag ’n voetganger nie die ryvlak in ’n voetgangeroorgang by die kruising begin oorsteek terwyl die rooi lig van ’n voetgangersein vertoon word in die teenoorgestelde rigting as die rigting waarin hy of sy begin stap nie.
(4)As daar geen voetgangerseine by ’n kruising is nie maar sodanige kruising deur ’n verkeersbeheerligsein beheer word, mag ’n voetganger nie die ryvlak in ’n voetgangeroorgang by die kruising begin oorsteek terwyl die rooi lig van ’n verkeersbeheerligsein vertoon word in die teenoorgestelde rigting as die rigting waarin hy of sy begin stap nie.
(5)As daar ’n verkeersbeheerligsein wat voetgangerseine bevat by ’n voetgangeroorgang op ’n ander plek as by ’n kruising is, mag ’n voetganger die ryvlak in die voetgangerkruising slegs begin oorsteek wanneer die groen lig van die voetgangersein vertoon word in die teenoorgestelde rigting as die rigting waarin hy of sy begin stap.
(6)Geen voetganger mag sy of haar eie veiligheid of die veiligheid van ’n persoon of voertuig wat ’n openbare pad gebruik, nalatiglik of roekeloos verontagsaam of in gevaar stel nie.

12. Gebruik van toeter

Niemand mag die klanktoestel of toeter van ’n voertuig op ’n openbare pad gebruik nie, buiten wanneer sodanige gebruik nodig is om aan die bepalings van hierdie Verordening of enige ander wet te voldoen of om veiligheidsredes.

13. Plig om aan te dui wanneer van baan verwissel word

(1)Die bestuurder van ’n voertuig op ’n openbare pad wat deur gepaste padverkeerstekens in verkeersbane verdeel is, mag nie van een baan in of oor ’n ander baan draai nie, tensy hy of sy dit kan doen sonder om ander verkeer te hinder of in gevaar te stel.
(2)’n Bestuurder mag nie van een baan in of oor ’n ander baan draai sonder om ’n opsigtelike sein te gee wat vir enige persoon wat hom of haar van voor of van agter of van die kant af nader, sigbaar is en lank genoeg duur om sodanige persoon van sy of haar bedoeling te waarsku nie.

14. Bestuur op skouers

(1)Behoudens subartikel (2), mag niemand ’n motorvoertuig op die skouer van ’n openbare pad bestuur nie.
(2)Ondanks subartikel (1), mag die bestuurder van ’n motorvoertuig sodanige motorvoertuig gedurende die tydperk tussen sonsopkoms en sonsondergang op die skouer van ’n openbare pad wat vir een verkeersbaan in elke rigting aangewys is, bestuur—
(a)terwyl sodanige motorvoertuig deur ’n ander voertuig verbygesteek word;
(b)indien hy of sy dit kan doen sonder om homself of haarself, ander verkeer, voetgangers of eiendom op sodanige openbare pad in gevaar te stel;
(c)indien persone en voertuie op ’n openbare pad op ’n afstand van minstens 150 meter duidelik onderskei kan word.

15. Bestuurder van motorvoertuig moet gelisensieer wees

Niemand mag ’n motorvoertuig op ’n openbare pad bestuur nie—
(a)buiten kragtens die gesag en in ooreenstemming met die voorwaardes van ’n lisensie wat ingevolge die Wet aan hom of haar uitgereik is of van ’n dokument wat geag word ’n lisensie vir die doeleindes van die Wet te wees; en
(b)tensy hy of sy sodanige lisensie of dokument of enige ander voorgeskrewe magtiging by hom of haar in die motorvoertuig hou.

16. Motorvoertuig moet gelisensieer wees

Behoudens die bepalings van die Wet, moet elke motorvoertuig in die Munisipaliteit, hetsy dit op ’n openbare pad bestuur word of nie, deur die eienaar van sodanige motorvoertuig in ooreenstemming met die bepalings van die Wet by die betrokke lisensie owerheid gelisensieer word.

17. Bestuurder moet bedryfslisensie of permit

Behoudens die bepalings van artikel 32 van die Wet, mag niemand ’n motorvoertuig van ’n klas wat ingevolge die Wet voorgeskryf word, op ’n openbare pad bestuur nie, behalwe—
(a)ooreenkomstig die voorwaardes van ’n permit wat ooreenkomstig die bepalings van die Wet aan hom of haar uitgereik is; en
(b)tensy hy of sy sodanige permit by hom of haar in die motorvoertuig hou,
Met dien verstande dat hierdie subartikel nie van toepassing is nie op die houer van ’n leerlinglisensie wat sodanige motorvoertuig bestuur terwyl hy of sy vergesel word van iemand wat as ’n bestuurder ten opsigte van daardie klas voertuig geregistreer is.

18. Drag en identifisering van taxiwagte

(1)Elke taxiwag moet, terwyl hy of sy aan diens is en homself of haarself vir diens aanbied, geklee wees in ’n retro-weerkaatsende beffie of baadjie, en moet seker maak dat ’n identifikasiekaart wat ingevolge enige ander wet aan hom of haar uitgereik is, opsigtelik vertoon word.
(2)Geen taxiwag of enige ander persoon mag klandisie lok nie.

Hoofstuk 4
Taxistaanplekke

19. Gebruik van taxistaanplekke

(1)Die bestuurder van ’n taxi moet, wanneer hy of sy by ’n taxistaanplek vir huur wil ry, dit in ’n tou doen en moet—
(a)sy of haar taxi posisioneer in die eerste oop plek wat in die tou beskikbaar is onmiddellik agter enige ander taxi wat reeds voor in die baan is waarvoor hy of sy roetemagtiging het; en
(b)sy of haar taxi vorentoe beweeg na gelang die tou vorentoe beweeg.
(2)Wanneer ’n taxi vir huur wil ry, moet ’n bestuurder
(a)van ’n taxi wat die eerste, tweede of derde posisie van voor af in ’n tou by ’n staanplek okkupeer, voortdurend naby sy of haar taxi wees so lank as wat die taxi in daardie posisie bly;
(b)nie sy of haar taxi posisioneer voor enige taxi wat voor hom of haar opgedaag het en ’n posisie in die tou ingeneem het nie; en
(c)as sy of haar taxi die eerste taxi in die tou is en iemand ’n taxi ontbied, op die oproep reageer, tensy die persoon duidelik sy of haar voorkeur vir ’n taxi wat nie voor in die tou is nie, te kenne gee.
(3)Niemand mag ’n taxi wat nie in ’n goeie werkende toestand is soos deur die Wet vereis word, in ’n taxistaanplek parkeer of daar stilhou of die taxi in ’n staanplek laat bly of toelaat dat dit daar bly nie.
(4)Niemand mag ’n taxi in ’n taxistaanplek parkeer of daar stilhou nie buiten ’n taxi waarvoor ’n staanplekbewys, wat die staanplek spesifiseer, vir die betrokke tydperk ingevolge artikel 3 uitgereik is.
(5)Niemand mag ’n motorvoertuig by ’n taxistaanplek was nie, buiten by ’n wasinham by die fasiliteit wat spesiaal vir hierdie doel gebou is.

20. Voorkom dat ’n taxi gehuur word

Niemand mag deur geweld, intimidasie of dreigemente te gebruik of op enige ander manier, voorkom of probeer voorkom dat—
(a)enigiemand ’n taxi neem of huur nie; of
(b)die bestuurder van ’n taxi passasiers oplaai nie.

21. Vervoer van gevaarlike of aanstootlike goedere in taxi’s

’n Persoon wat in beheer van ’n taxi is, mag nie wetend ’n persoon of goedere vervoer of toelaat dat ’n persoon of goedere in ’n taxi vervoer word, of die taxi gehuur is of nie, as daardie persoon of goedere—
(a)ingevolge ’n bestaande wet nie vervoer mag word nie; of
(b)ooglopend blootgestel is of besmet is deur ’n besmetlike of aansteeklike siekte soos in die Wet bedoel.

22. Ontsmetting van ’n taxi nadat passasiers met besmetlike of aansteeklike siektes vervoer is

(1)Die eienaar, bestuurder of persoon in beheer van ’n taxi moet onmiddellik stappe doen om die taxi te laat ontsmet sodra dit tot sy of haar kennis kom dat—
(a)’n passasier wat aan ’n ooglopend besmetlike of aansteeklike siekte ly;
(b)die liggaam van ’n persoon wat aan ’n ooglopend besmetlike of aansteeklike siekte dood is; of
(c)enigiets wat blootgestel is aan of besmet is deur die infeksie van ’n ooglopend besmetlike of aansteeklike siekte,
in die taxi vervoer is.
(2)Die eienaar, bestuurder of ander persoon in beheer van die taxi mag nie passasiers in die taxi vervoer voordat die taxi ontsmet is nie.
(3)Die eienaar, bestuurder of ander persoon in beheer van ’n taxi moet ’n gemagtigde amptenaar in kennis stel van en al sy of haar opdragte uitvoer met betrekking tot die ontsmetting van ’n taxi waarna in subartikel (1) verwys word.
(4)Behoudens enige ander wet, mag niemand wat aan ’n aansteeklike siekte ly, in ’n taxi klim nie.

23. In en uit taxi’s klim

(1)Niemand mag in ’n taxi klim voordat almal wat uit die taxi wil klim, dit gedoen het nie.
(2)Niemand mag daarop aandring om in ’n taxi te klim as die getal passasiers meer sal wees as die totale getal passasiers wat die taxi gemagtig is om te vervoer nie.
(3)Niemand mag in of uit ’n taxi klim of probeer in- of uitklim terwyl die taxi beweeg nie.

24. Toustaan by taxistaanplekke of taxifasiliteite

(1)Die Munisipaliteit kan by ’n gevestigde taxistaanplekfasiliteit ’n toustaanteken oprig of laat oprig wat bestaan uit ’n kennisgewingbord wat die plek en die manier aandui waarop mense wat wag om in ’n taxi te klim, moet staan en ’n tou vorm, en sodanige teken kan aangevul word deur toustaanhindernisse in die vorm van relings of strepe op die oppervlak van die gebied wat vir toustaandoeleindes afgebaken word.
(2)Alle passasiers wat by ’n gevestigde staanplekfasiliteit of stilhouplek in ’n taxi wil klim, moet toustaan vanaf die punt wat aangedui word as die plek van waar sodanige taxi gaan vertrek.
(3)Waar daar geen toustaanteken opgerig is nie, moet passasiers wat wag om in ’n taxi te klim, wanneer dit deur ’n goedgekeurde taxiwag of gemagtigde amptenaar van die Munisipaliteit vereis word, ’n tou vorm van nie meer as twee persone langs mekaar of in ’n enkelry nie.
(4)’n Passasier mag slegs in ’n taxi klim wanneer hy of sy voor in die tou kom.
(5)Elke passasier wat toustaan, moet al die opdragte gehoorsaam wat deur ’n goedgekeurde taxi-opsiener, gemagtigde beampte of gemagtigde amptenaar aan diens gegee word.

25. Betaling van reisgeld

’n Passasier moet op versoek die vasgestelde reisgeld vir die rit betaal.

26. Regte en pligte van passasiers wanneer ’n taxi onklaar raak

(1)Indien ’n taxi onklaar raak of om enige rede hoegenaamd nie verder kan ry nie, moet die passasiers, op versoek van die bestuurder, uit die onklaargeraakte taxi klim, en indien die passasiers reeds hulle reisgeld betaal het, is hulle geregtig op terugbetaling van die bedrag van hulle reisgeld wat aldus betaal is.
(2)As daar met die bestuurder van die onklaargeraakte taxi ooreengekom word, word passasiers toegelaat om vir die res van die afstand ten opsigte van die betaalde reisgeld op die koste van die eienaar van die onklaargeraakte taxi met die volgende beskikbare taxi te reis.
(3)’n Bestuurder wat weier om ’n passasier terug te betaal, soos in subartikel (1) bedoel, of wat weier om ’n passasier toe te laat om te reis op die manier soos in subartikel (2) bedoel, begaan ’n misdryf.

27. Diere

Geen passasier mag met ’n dier in ’n taxi klim nie, behalwe met ’n gidshond wat ’n blinde persoon help.

28. Optrede wat in ’n taxi verbied word

Die volgende optrede in ’n taxi word verbied:
(a)rook;
(b)die speel van aanstootlike of buitensporige harde musiek;
(c)die gebruik van obsene of aanstootlike taal;
(d)die pleeg van ’n aanstootlike daad;
(e)inmenging met die gemak van ’n passasier;
(f)beskadiging van ’n taxi of die bybehore daarvan;
(g)inmenging met die toerusting van die taxi op enige manier;
(h)om die bestuurder te dwing om van sy roete af te wyk;
(i)om die lewe van ’n ander persoon in gevaar te stel; en
(j)inmenging met die optrede van die bestuurder.

29. Gedrag wat by ’n taxistaanplek verbied word

Iemand wat ’n steurnis veroorsaak of op ’n oproerige of onfatsoenlike manier optree, begaan ’n misdryf ingevolge hierdie Verordening en kan deur enige gemagtigde beampte van die Munisipaliteit uit ’n tou, taxistaanplek of die omgewing van ’n taxistaanplek verwyder word.

30. Bedryfslisensie moet op aanvraag getoon word

(1)Die houer van ’n bedryfslisensie moet—
(a)die bedryfslisensie in ’n goeie en leesbare toestand in stand hou; en
(b)te alle toepaslike tye wanneer sodanige voertuig as ’n taxi of bus bedryf word, die bedryfslisensie hou in die motorvoertuig waarop dit betrekking het.
(2)’n Verkeersbeampte kan die bestuurder van ’n taxi of bus aansê om te stop en hom of haar vra—
(a)om die bedryfslisensie te toon; en
(b)om sy of haar volle naam en adres en ook die naam en adres van die eienaar van die taxi of bus te verstrek.
(3)’n Bestuurder in subartikel (2) bedoel, mag nie—
(a)’n openbare vervoerdiens sonder ’n geldige bedryfslisensie bedryf nie; of
(b)toelaat dat die bedryfslisensie vir ’n ander voertuig as die een wat in sodanige bedryfslisensie gespesifiseer word, gebruik word nie.

31. Ongemagtigde oorhandiging of verlating van bus of taxi

Geen bestuurder van ’n taxi of bus mag—
(a)sy of haar voertuig verlaat nie; of
(b)toelaat dat enige ander persoon die taxi of bus onder sy of haar beheer sonder die toestemming van die houer van die betrokke openbare permit bestuur nie.

32. Toepassing van reg van betreding

’n Gemagtigde beampte mag, by die toepassing van die bepalings van hierdie Verordening, op enige redelike tyd en sonder vooraf kennisgewing—
(a)’n openbare vervoerdiensfasiliteit betree om die fasiliteit te inspekteer; en
(b)navraag doen by ’n persoon wat by die fasiliteit betrokke is.

33. Eiendom wat in passasiersvoertuie agtergelaat is

Die bestuurder van ’n passasiersvoertuig moet die voertuig na elke rit deeglik ondersoek, en as ’n passasier enige eiendom in die voertuig agtergelaat het, moet die bestuurder
(a)daardie eiendom aflewer by die persoon wat dit agtergelaat het; of
(b)as hy of sy daardie eiendom nie kan aflewer by die persoon wat dit agtergelaat het nie, die eiendom so gou moontlik na die kantoor vir verlore eiendom of sy of haar werkgewer of die naaste polisiestasie neem en dit daar by die beampte aan diens laat en ’n kwitansie daarvoor kry.

34. Oorlading

Geen bestuurder van ’n openbare vervoervoertuig mag meer as die gespesifiseerde getal passasiers soos in die openbare permit aangedui, toelaat nie.

35. Voorkom dat ’n taxi gehuur word

Niemand mag, deur geweld, intimidasie of dreigemente gebruik of op enige ander manier, voorkom of probeer voorkom dat—
(a)enigiemand ’n taxi neem of huur nie; of
(b)die bestuurder van ’n taxi passasiers oplaai nie.

36. Verbod op die gebruik van kommunikasietoestel terwyl bestuur word

(1)Behoudens enige ander wet, mag niemand ’n voertuig op ’n openbare pad bestuur—
(a)terwyl hy of sy ’n sellulêre of mobiele telefoon of enige ander kommunikasietoestel in een of albei hande of met enige ander deel van die liggaam vashou nie;
(b)terwyl hy of sy ’n sellulêre of mobiele telefoon of ander kommunikasietoestel gebruik of bedryf nie, tensy sodanige sellulêre of mobiele telefoon of ander kommunikasietoestel in die voertuig aangebring is of deel van die bybehore in die voertuig is en so aangebring bly terwyl dit gebruik of bedryf word, of spesiaal aangepas of ontwerp is om op die kop van die bestuurder aangebring te word, en so gebruik word dat dit sodanige bestuurder in staat stel om sodanige telefoon of kommunikasietoestel te gebruik of te bedryf sonder om dit vas te hou op die wyse in paragraaf (a) bedoel, en so aangebring bly terwyl dit gebruik of bedryf word.
(2)Vir die doel van hierdie artikel—
(a)sluit die woord "kopstuk" ’n toestel in wat spesiaal ontwerp of aangepas is om die bestuurder in staat te stel om ’n sellulêre of mobiele telefoon of ander kommunikasietoestel op so ’n manier te gebruik dat hy of sy dit nie in een of albei hande of met enige ander deel van die liggaam vashou nie, en wat direk of indirek met die betrokke sellulêre of mobiele telefoon of ander kommunikasie-toestel verbind is terwyl dit in een of albei ore van die bestuurder pas of daaraan geheg is; en
(b)sluit die uitdrukkings "sellulêre of mobiele telefoon of ander kommunikasietoestel" en "sellulêre of mobiele telefoon of enige ander kommunikasietoestel" landgebaseerde mobiele radiosend-en-ontvangstoestelle uit wat in die frekwensieband 2 megahertz tot 500 megahertz werk en wat in die voertuig aangebring is of deel van die bybehore in die voertuig is.

37. Misdrywe en strawwe

(1)’n Persoon wat ’n bepaling van hierdie Verordening oortree, begaan ’n misdryf.
(2)’n Persoon wat ’n misdryf begaan in subartikel (1) bedoel, is by skuldigbevinding strafbaar met ’n boete of gevangenisstraf van hoogstens drie jaar, of met beide sodanige boete en sodanige gevangenisstraf.

38. Kort titel

Hierdie verordening word genoem die Matzikama Munisipaliteit Verordening op Verkeer, 2010.
▲ To the top