Verordening insake Kredietbeheer en Skuldinvordering van Matzikama Munisipaliteit

This is the latest version of this By-law.

Matzikama
South Africa

Verordening insake Kredietbeheer en Skuldinvordering van Matzikama Munisipaliteit, 2010

  1. [Gewysig deur Credit Control and Debt Collection: Amendment op 7 Desember 2012]
  2. [Gewysig deur Credit Control and Debt Collection: Amendment op 3 Oktober 2014]
Ten einde gevolg te gee aan die Munisipaliteit se kredietbeheer- en skuldinvorderingsbeleid en die implementering en uitvoering daarvan soos vereis deur artikel 98 van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels, 2000 (Wet 32 van 2000) en om gevolg te gee aan die plig wat artikel 96 van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels, 2000 (Wet 32 van 2000) plaas om alle gelde wat aan die Munisipaliteit verskuldig en betaalbaar is, in te vorder, neem Matzikama Munisipaliteit hiermee ingevolge artikel 75 van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels, 2000 (Wet 32 van 2000) en artikel 156(2) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet 108 van 1996) die volgende verordening aan:

1. Woordbepaling

Tensy onbestaanbaar met die sinsverband, beteken:"beleid" die munisipaliteit se kredietbeheer- en skuldinvorderingsbeleid soos goedgekeur deur die Raad by besluit 7.3.7 van 28 Mei 2013;"diens" enige diens wat deur die Raad gelewer word en ten opsigte waarvan ’n rekening gelewer word;"gebruiker" ’n persoon aan wie die Raad ’n diens lewer, hetsy of so ’n persoon ’n ooreenkoms met die Raad aangegaan het vir die voorsiening van so ’n diens, al dan nie;"munisipale bestuurder" die persoon wat deur die Raad as munisipale bestuurder ingevolge artikel 82 van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture, 1998, aangestel is;"Munisipaliteit" die Munisipaliteit van Matzikama;"Raad" die munisipale raad van die Munisipaliteit;"reëling" ’n skriftelike ooreenkoms aangegaan deur die Raad en ’n skuldenaar waar tot spesifieke bedinge vir die betaling van skuld ooreengekom word;"skuld" enige geld wat aan die Raad verskuldig is vir die lewering van dienste, en sluit gelde in wat verskuldig is ten opsigte van eiendomsbelasting;"skuldenaar" enige persoon wat by die Raad in skuld is;"vervaldatum" by gebrek aan enige uitdruklike ooreenkoms en ten opsigte van:(a)belastings, behalwe belastings wat in paaiemente afbetaal word, die eerste dag van Julie van die finansiële jaar waarvoor sodanige belasting bepaal is, en(b)enige diens en belastings wat in paaiemente afbetaal word, die datum wat op die rekening aangedui word en deur die Raad bepaal is as die laaste datum waarop die rekening betaal kan word.

2. Rekeninge

(1)Die munisipale bestuurder sal gereeld ’n rekening aan ’n gebruiker stuur, soos uiteengesit in die beleid.
(2)Die munisipale bestuurder sal voor die vervaldatum rekeninge aan gebruikers pos of per hand laat aflewer.

3. Plig om skuld in te vorder

Alle skuld aan die Raad sal ingevorder word in navolging van die beleid en geen afwyking daarvan is toelaatbaar sonder dat die beleid eers gewysig is nie.

4. Betaling van rekeninge

(1)’n Gebruiker moet ’n rekening wat gelewer word, ten volle betaal voor die vervaldatum.
(2)Rekeninge kan betaal word by enige kantoor van die Raad waar geriewe is vir die aanvaarding van kontant.

5. Lewering van dienste

Aansoeke vir dienste en die voorsiening van nuwe dienste sal hanteer word soos uiteengesit in die beleid.

6. Diensooreenkoms

(1)Behalwe soos andersins bepaal in die beleid, sal gaan dienste gelewer word alvorens ’n diensooreenkoms tussen die Raad en die gebruiker aangegaan is nie.
(2)Die munisipale bestuurder is gemagtig om ’n diensooreenkoms met ’n gebruiker aan te gaan.

7. Deposito’s

Die Raad kan vereis dat deposito’s vir die lewering van nuwe dienste en die heraansluiting van dienste betaal word, of kan die bedrag van enige bestaande deposito aanpas, soos uiteengesit in beleid.

8. Rente

Die munisipale bestuurder sal rente hef en invorder ten opsigte van enige agterstallige skuld, soos uiteengesit in die beleid.

9. Reëlings vir die betaling van agterstalige skuld

(1)Die munisipale bestuurder kan reëlings tref met ’n skuldenaar om enige agterstallige skuld onder voorwaardes soos in die beleid uiteengesit, te betaal.
(2)Indien daar enige dispuut ontstaan oor die bedrag van die agterstallige skuld, moet die skuldenaar nogtans voortgaan om gereelde betalings ingevolge die reëlings te maak, tot tyd en wyl die dispuut uit die weg geruim is.
(3)Die munisipale bestuurder is gemagtig om ooreenkomste met ’n skuldenaar aan te gaan ten einde ’n reëling waartoe ooreengekom is, te formaliseer.

10. Bevoegdheid om die voorsiening van dienste te beperk of af te sny

Die munisipale bestuurder kan die voorsiening van water, gas of elektrisiteit beperk of afsny, of die voorsiening van enige ander diens aan die perseel van ’n gebruiker staak, ingevolge die voorwaardes soos uiteengesit in die beleid.

11. Bevoegdheid van Raad om koste te verhaal

Die munisipale bestuurder moet die volgende koste wat deur of namens die Raad aangegaan is, verhaal:
(a)onkoste en administrasiefooie waar betalings aan die Raad deur middel van verhandelbare dokumente deur banke dishonoreer is toe dit vir betaling aangebied is;
(b)regs- en administrasiekostes, insluitende prokureur-en-kliëntkoste en opsporingsgelde wat aangegaan is in die verhaling van skulde;
(c)afsny- en heraansluitingsfooie, waar enige diens gestaak is as gevolg van die nie-nakoming van hierdie verordening, en
(d)enige verliese wat die Raad mag ly as gevolg van peutering met raadstoerusting of meters.

12. Konsolidasie en kreditering van rekeninge

Die munisipale bestuurder is gemagtig om-
(a)die afsonderlike rekeninge van ’n skuldenaar te konsolideer, en
(b)’n betaling wat deur so ’n skuldenaar gemaak is, teen enige rekening van so ’n skuldenaar te krediteer.

13. Toewysing van betalings

Die munisipale bestuurder is gemagtig om enige betaling van ’n gebruikter toe te wys, eerstens aan die kostes waarna in artikel 11 verwys word,ntweedens aan enige rente wat opgeloop het, en daarna aan die uitstaande bedrag.

14. Beslaglegging

Die munisipale bestuurder kan, ten einde skuld in te vorder en, as ’n laaste uitweg, beslag laat lê op die eiendom van ’n skuldenaar.

15. Reg op huurgeld vir eiendomsbelasting

Die munisipale bestuurder moet by ’n hof aansoek doen om beslag te lê op enige huurgeld betaalbaar ten opsigte van enige belasbare eiendom, vir die gedeeltelike of algehele verhaling van eiendomsbelasting wat vir meer as drie maande na die vervaldatum ten opsigte van sodanige eiendom uitstaande is.

16. Volle en finale vereffenings

(1)Enige bedrag wat vir die delging van skuld aangebied word, sal aanvaar word by enige kontantkantoor van die Raad.
(2)Geen aanbod vir volle en finale vereffening van skuld, teen ’n bedrag minder as die uitstaande bedrag, sal aanvaar word nie, tensy dit skriftelik deur die munisipale bestuurder bevestig is.
(3)Ondanks die bepalings van subartikel (2), sal die betaling aldus aangebied nogtans teen die rekening van die skuldenaar gekrediteer word.

17. Hulpbehoewendes

’n Skuldenaar wat hulpbehoewendheid kan bewys, sal hanteer word soos in die beleid uiteengesit.

18. Delegasies

(1)Die munisipale bestuurder mag enige bevoegdheid of plig wat ingevolge die bepalings van hierdie verordening aan die munisipale bestuurder opgedra is, aan ’n lid van die munisipaliteit se personeel delegeer
(2)’n Delegasie ingevolge subartikel (1):
(a)moet skriftelik wees;
(b)is onderworpe aan enige beperkings, voorwaardes en lasgewings wat die munisipale bestuurder mag oplê;
(c)kan die bevoegdheid insluit om ’n gedelegeerde bevoegdheid te subdelegeer;
(d)ontneem nie die munisipale bestuurder die verantwoordelikheid betreffende die uitoefening van die bevoegdheid of die verrigting van die plig nie.

19. Toepassing

Hierdie verordening is nie van toepassing op die verhuring van onroerende raadseiendom of enige ander onroerende eiendom wat deur die Raad namens enige ander staatsorgaan in ’n ander sfeer van regering administreer word nie, in soverre dit betrekking het op die verhaling van huurgeld, nie.

20. Strafbepaling

Enige persoon wat:
(a)’n raadslid of amptenaar van die Raad in die uitvoering van sy of haar pligte ingevolge hierdie verordening weerstaan of hinder;
(b)die Raad se toerusting gebruik of daarmee inmeng of met die verbruik van dienste inmeng;
(c)met die Raad se toerusting peuter of enige seël op ’n meter breek;
(d)die bepalings van hierdie verordening of die beleid oortree of nalaat om daaraan te voldoen, of
(e)nalaat om aan ’n kennisgewing wat ingevolge hierdie verordening uitgereik is, te voldoen, is skuldig aan ’n misdryf en by skuldigbevinding strafbaar met die betaling van ’n boete.

21. Kort titel en inwerkingtrede

Hierdie verordening heet die Verordening insake Kredietbeheer en Skuldinvordering van Matzikama Munisipaliteit en tree in werking op die datum van publikasie daarvan in die Provinsiale Koerant.
▲ To the top