Verordening Vir Die Hou Van Vergaderings Van Die Raad Van Matzikama Munisipaliteit


Matzikama
South Africa

Verordening Vir Die Hou Van Vergaderings Van Die Raad Van Matzikama Munisipaliteit, 2008

Deel 1 – Algemeen

1. Magtiging

Die grondwet magtig die raad om verordeninge uit te vaardig om reëls en orders voor te skryf vir sy interne reëlings, sy werksaamhede en verrigtinge, en die instelling, samestelling, prosedures, bevoegdhede en funksies van sy komitees.

2. Interpretasies

By die interpretasie van hierdie verordening, sal nasionale en provinsiale wetgewing voorrang geniet. Enige bepaling in hierdie verordening wat regtens verbied word of onafdwingbaar is, sal nie in die mate wat dit verbode of onafdwingbaar is, die geldigheid van die oorblywende bepalings hiervan op enige wyse hoegenaamd ongeldig maak nie.

3. Woordomskrywing

In hierdie verordening, tensy dit uit die samehang anders blyk, beteken:"burgemeester" die raadslid deur die raad aangewys as uitvoerende burgemeester kragtens die Strukturewet of, in sy/haar afwesigheid, die uitvoerende onderburgemeester;"gedragskode" die gedragskode vir raadslede soos in die Stelselswet uiteengesit;"Grondwet" die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet 108 van 1996);"LUR" die lid van die Uitvoerende Raad verantwoordelik vir Plaaslike Regering in die Provinsie Wes-Kaap;"meerderheid van stemme" die stem uitgebring deur die meerderheid van raadslede wat tydens ’n vergadering teenwoordig is;"mosie" ’n voorstel, aanbeveling of vraag waaroor die raad ’n besluit moet neem, uitgesluit ’n mosie soos vermeld in paragrawe 47 en 48;"munisipale bestuurder" die persoon deur die raad as munisipale bestuurder of waarnemende munisipale bestuurder aangestel ingevolge die Strukturewet;"ondersteunende stem" die stem uitgebring deur die meerderheid van die lede van die raad;"party" ’n politieke party soos omskryf in die Strukturewet;"raad" die munisipale raad van Matzikama Munisipaliteit;"reëls" die bepalings van hierdie verordening;"speaker" die raadslid gekies tot voorsitter van die raad of enige ander raadslid wat as voorsitter van die raad waarneem kragtens die Strukturewet;"Stelselswet" die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels 2000 (Wet 32 van 2000);"Strukturewet" die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture, 1998 (Wet 117 van 1998);"vergadering" die vergadering van die raad of enige van sy komitees.

Deel 2 – Toepassing van verordening

4. Toepassing

(1)Hierdie verordening is op alle vergaderings van toepassing.
(2)Uitgesonderd waar dit klaarblyklik onvanpas is, is ’n reël wat in enige verrigtinge op raadslede van toepassing is, ook van toepassing op ’n nie-raadslid wat met die goedkeuring van die speaker aan daardie verrigtinge deelneem.
(3)Uitgesonderd waar dit klaarblyklik onvanpas is, is hierdie verordening ook van toepassing op komitees van die raad, in welke geval enige verwysing na speaker in hierdie verordening uitgelê moet word as—
(a)die raadslid wat as voorsitter van enige komitee van die raad optree of as voorsitter van sodanige komitee waarneem; of
(b)die raadslid wat as uitvoerende burgemeester aangewys is en as voorsitter van die burgemeesterskomitee optree en in sy/haar afwesigheid, die uitvoerende onderburgemeester.

5. Aanvulling

(1)Die speaker kan ’n beslissing gee met betrekking tot die toepassing van hierdie verordening en ten opsigte van enige gebeurlikheid waarvoor hierdie verordening nie voorsiening maak nie, en geen verdere bespreking word oor die beslissing toegelaat nie.
(2)Ondanks die bepalings van paragraaf 57 mag die speaker ook gelas dat die raad vir ’n bepaalde tyd verdaag, vir hoogstens een uur lank, indien omstandighede dit sou vereis.
(3)Die speaker se beslissing sal finaal en bindend op raadslede en die publiek wees, behoudens die regte van die raad kragtens subparagrawe 5(a) en 5(b) van die verordening.
(4)Die beslissing van die speaker moet in die notule aangeteken word.
(5)Indien die meerderheid van die teenwoordige raadslede tydens ’n vergadering van mening is dat die speaker sy/haar magte oorskry het, en/of die toepaslike reël verkeerd geïnterpreteer het, en/of die reëls van die prosedures van die raad nie nakom nie, kan die raad:
(a)die speaker tydelik uit die amp onthef en ’n ander raadslid ingevolge die Strukturewet aanwys om as speaker waar te neem, vir die aanwysing van ’n spesiale komitee, wat uit raadslede sal bestaan;
(b)onmiddellik daarna ’n spesiale komitee aanwys om die voorval te ondersoek en om ’n aanbeveling aan die raad te maak;
waarna die speaker sal voortgaan om die vergadering te lei om uitstaande items op die sakelys af te handel.
(6)Die spesiale komitee na verwys in subparagraaf 5(b) van die verordening sal so gou doenlik vergader om die voorval te ondersoek en ’n toepaslike aanbeveling aan die raad te maak.

Deel 3 – Vergaderings

6. Voorsitterskap van vergaderings

(1)Die speaker tree tydens alle vergaderings van die raad as voorsitter op.
(2)Indien die speaker tydens ’n vergadering nie teenwoordig is nie, word ’n waarnemende speaker vir daardie vergadering uit die teenwoordige raadslede gekies deur ’n meerderheid van stemme.

7. Aanvang van vergadering

Die speaker moet, behoudens die bepaling van paragraaf 16 van die verordening op elke vergadering van die raad, die stoel op die vasgestelde aanvangstyd van die vergadering inneem en word daar onmiddellik tot die werksaamhede van die vergadering oorgegaan.

8. Volgorde van sake

(1)Die sake van vergaderings moet in die volgende volgorde op die sakelys verskyn:
(a)verkiesing van waarnemende speaker, indien nodig;
(b)aansoeke vir verlof vir afwesigheid;
(c)goedkeuring van notule;
(d)verklarings en mededelings deur die speaker;
(e)verklarings en mededelings deur die burgemeester;
(f)onderhoude met afvaardigings;
(g)oorweging van verslae;
(h)dringende aangeleenthede deur die munisipale bestuurder;
(i)oorweging van kennisgewings van mosies;
(j)oorweging van kennisgewings van vrae; en
(k)oorweging van dringende mosies.
(2)Die speaker kan uit eie beweging die volgorde van die sake op die sakelys verander.
(3)’n Raadslid wat die volgorde van sake op die sakelys wil verander, moet die speaker voor die vergadering met die versoek nader, maar dit bly die prerogatief van die speaker om toe te stem tot die versoek of dit te weier.

9. Dringende aangeleenthede

Die speaker, burgemeester en/of munisipale bestuurder kan sonder kennisgewing op enige vergadering enige verkiesing doen of enige dringende aangeleentheid voorstel of enige mededeling voorlees.

10. Sake vir afhandeling

Uitgesonderd soos in hierdie verordening bepaal, mag geen aangeleentheid wat nie op die sakelys van ’n vergadering van die raad vermeld is nie, op sodanige vergadering behandel word nie.

11. Vergaderings

(1)Die raad moet ten minste kwartaalliks vergader.
(2)Uitgesluit die eerste vergadering van die raad en behoudens die bepalings van subparagraaf 11(1) van die verordening, besluit die speaker waar en wanneer die raad vergader.
(3)Indien ’n meerderheid van die raadslede die speaker skriftelik versoek om ’n vergadering te belê, moet die speaker die vergadering byeenroep op die tyd in die versoek vermeld.
(4)Die munisipale bestuurder, in opdrag van die speaker,
(a)gee minstens 48 uur vooraf skriftelik kennis aan elke raadslid van elke vergadering, tesame met die sakelys bedoel vir daardie vergadering; en
(b)moet op ’n wyse wat deur die raad bepaal word, die publiek in kennis stel van die tyd, datum en plek van elke vergadering van die raad,
behalwe wanneer tydbeperkings dit onmoontlik maak ten opsigte van dringende vergaderings.
(5)Raadslede moet die sakelyste wat ooreenkomstig subparagraaf 11(4)(a) van die verordening aan hulle besorg is, behoorlik nagaan en hulself deeglik vir die geskeduleerde vergadering voorberei.
(6)By die aanvaarding van sy/haar amp as raadslid, moet ’n raadslid aan die munisipale bestuurder ’n adres binne die munisipale regsgebied verskaf waar sakelyste van vergaderings aan sodanige raadslid bestel moet word.’n Raadslid moet die munisipale bestuurder sonder versuim in kennis stel indien die voormelde adres sou wysig.

12. Bywoning van vergaderings

(1)Elke raadslid wat op ’n vergadering van die raad teenwoordig is, moet sy/haar naam teken in die bywoningsregister wat vir dié doel beskikbaar moet wees.
(2)Die name van alle raadslede wat op enige raads- en komiteevergadering teenwoordig is en van alle raadslede aan wie verlof tot afwesigheid van enige sodanige verandering gegee is, moet aangeteken word in die notule of verslag of verslae met betrekking tot sodanige vergadering.
(3)’n Raadslid moet elke vergadering van die raad en van ’n komitee waarvan daardie raadslid ’n lid is, bywoon, behalwe wanneer—
(a)verlof vir afwesigheid ingevolge paragraaf 13 van die verordening verleen is; of
(b)die raadslid hom of haar ingevolge hierdie verordening moet onttrek;
(c)’n raadslid kragtens subparagraaf 29(3) van die verordening tydelik geskors is.

13. Verlof tot afwesigheid

(1)’n Raadslid wat nie ’n vergadering kan bywoon nie, moet ten minste een uur voor die aanvang van die vergadering by die kantoor van die munisipale bestuurder of sy gedelegeerde verskoning aanteken. Die speaker kan egter, om goeie redes, verlof vir afwesigheid verleen aan ’n raadslid wat deur spesiale omstandighede verhinder word om verlof vir afwesigheid voor die aanvang van die vergadering aan te teken.
(2)’n Raadslid wat, sonder verlof, versuim om teenwoordig te bly by ’n vergadering, word geag as sonder verlof afwesig te wees.
(3)Die name van alle raadslede wat sonder verlof afwesig is van enige vergadering of versuim om teenwoordig te bly by ’n vergadering, moet aangeteken word in die notule of verslag of verslae met betrekking tot sodanige vergadering.

14. Sanksie vir nie-bywoning

(1)’n Raadslid wat sonder verlof van ’n vergadering afwesig is of ooreenkomstig subparagraaf 13(2) van die verordening geag word afwesig te wees, oortree hierdie verordening: met dien verstande dat indien ’n raadslid ooreenkomstig paragraaf 29 van die verordening tydelik van vergaderings en/of komitees geskors is, hy of sy vir doeleindes van hierdie paragraaf geag word met verlof afwesig te wees.
(2)’n Raadslid wat die bepaling van subparagraaf 14(1) van hierdie verordening oortree, word beboet met ’n bedrag soos van tyd tot tyd deur die raad bepaal, welke boete regstreeks van die betrokke raadslid se vergoeding verhaal sal word.
(3)’n Raadslid wat sonder verlof afwesig is van drie of meer agtereenvolgende vergaderings van die raad of van drie of meer agtereenvolgende vergaderings van ’n komitee, wat daardie raadslid veronderstel is om by te woon, moet uit sy/haar amp as raadslid ontslaan word.
(4)Die raad kan ’n spesiale komitee instel om enige herhaalde oortreding van sub-paragraaf 14(1) van hierdie verordening ingevolge die gedragskode te ondersoek, ’n bevinding te maak en ’n toepaslike aanbeveling aan die raad te maak.
(5)Stappe vir die ontslag van ’n raadslid moet aangevoer word ooreenkomstig die eenvormige staande prosedures van die raad, wat moet voldoen aan die reëls van natuurlike geregtigheid.

15. Notule

(1)’n Notule van verrigtinge van vergaderings moet in gedrukte vorm saamgestel word en moet op die volgende vergadering deur die raad goedgekeur en deur die speaker onderteken word.
(2)Die notule word vir die doel van goedkeuring as gelees beskou indien ’n eksemplaar daarvan ten minste 48 uur voor die geskeduleerde vergadering aan elke raadslid gestuur is.
(3)Geen mosie of bespreking oor die notule word toegelaat nie, uitgesonderd in verband met die juistheid daarvan.
(4)’n Geleentheidsvoorstel om die notule te verbeter, is toelaatbaar en indien dit aangeneem word, moet die notule dienooreenkomstig verbeter en onderteken word.

16. Kworum

(1)’n Meerderheid van die lede van die raad moet by ’n vergadering van die raad teenwoordig wees voordat daar oor enige aangeleentheid gestem mag word.
(2)Ongeag die bepalings van subparagraaf 16(1) van hierdie verordening, sal ’n vergadering eers in aanvang neem sodra daar ’n kworum teenwoordig is. As daar op die tydstip waarvoor die vergadering belê is nie ’n kworum is nie, sal die speaker eers die stoel inneem sodra daar ’n kworum is.
(3)Wanneer daar nie ’n kworum is nie, moet die begin van die vergadering met hoogstens 30 minute uitgestel word en as daar aan die einde van hierdie tydperk nog nie ’n kworum is nie, moet die speaker die vergadering verskuif na ’n ander tyd, datum en plek na sy of haar goeddunke en moet hy of sy die name van die teenwoordige lede aanteken.
(4)Wanneer die speaker nie teenwoordig is nie en daar ook nie ’n kworum is nie, moet die begin van die vergadering met hoogstens 30 minute uitgestel word, en as daar aan die einde van daardie tydperk nog nie ’n kworum is nie, mag die vergadering nie plaasvind nie en moet die munisipale bestuurder die name van die teenwoordige lede aanteken.
(5)Wanneer daar by die aanvang van ’n vergadering ’n kworum is, maar tydens die vergadering die situasie ontstaan dat daar nie ’n kworum is nie, moet die speaker die vergadering tydelik verdaag totdat daar weer ’n kworum is, met dien verstand dat as daar na 10 minute nog nie ’n kworum is nie, die speaker die vergadering moet verdaag.
(6)Wanneer ’n vergadering verdaag word omdat daar nie meer ’n kworum is nie, moet die tyd van sodanige verdaging asook die name van die teenwoordige raadslede en die name van raadslede wat die vergadering sonder verskoning verlaat het, in die notule aangeteken word.

Deel 4 – Besluite

17. Onbestrede aangeleenthede

Wanneer die raad versoek word om ’n aangeleentheid voor hom te oorweeg en daar geen teenkanting van enige raadslid is nie, moet ’n eenparige stemming in die notule aangeteken word.

18. Wyse van stemming

(1)Die speaker moet ’n stemming hou oor elke mosie wat teengestaan word, deur die raadslede te versoek om deur die opsteek van hande, tensy anders voorgeskryf, aan te dui of hulle vir of teen sodanige mosie is, waarna hy of sy die uitslag van sodanige stemming bekend moet maak en dit in die notule aangeteken word.
(2)Indien die meerderheid van die teenwoordige raadslede die speaker versoek dat ’n stemming per geslote stembrief moet geskied, sal dit dienooreenkomstig geskied.
(3)Wanneer die speaker die uitslag van ’n stemming bekend maak, kan ’n raadslid versoek dat sy of haar stem teen die betrokke besluit aangeteken word en die munispale bestuurder moet seker maak dat sodanige stem in die notule aangeteken word.
(4)’n Raadslid kan buite stemming bly sonder om die vergaderlokaal te verlaat.

19. Besluite

(1)In ooreenstemming met die Strukturewet is ’n ondersteunende stem van minstens twee derdes van die lede van die raad nodig om ’n besluit om die raad te ontbind, aan te neem.
(2)In ooreenstemming met die Grondwet is die ondersteunende stem van ’n meerderheid van die raadslede nodig om te besluit oor—
(a)die aanneem van verordeninge;
(b)die goedkeuring van die begroting;
(c)die oplegging van eiendomsbelasting en ander belastings, heffings en regte; en
(d)die verkryging van lenings.
(3)Indien die raad ingevolge subparagraaf 21 van die verordening ’n bestaande besluit—
(a)binne ses maande nadat dit besluit is, wil herroep, wysig of ’n besluit strydig daarmee wil neem, moet dit geskied deur ’n besluit geneem met ’n ondersteunende stem van ’n meerderheid van raadslede;
(b)na verloop van ses maande nadat dit besluit is, wil herroep, wysig of ’n besluit strydig daarmee wil neem, moet dit geskied deur ’n besluit van dieselfde beskrywing as dié wat by wetgewing vereis word vir die neem van die aanvanklike besluit.
(4)Alle ander vrae as na verwys in subparagrawe 19(1), 19(2) en 19(3) van die verordening, word beslis deur ’n meerderheid van die stemme wat uitgebring word.
(5)In alle gevalle verwys na in subparagrawe 19(1), 19(2), 19(3) en 19(4) van die verordening, indien daar ’n staking van stemme is, moet die speaker ’n beslissende stem uitbring, benewens die speaker se stem as raadslid.
(6)Alvorens die raad ’n besluit oor die volgende aangeleenthede neem, moet hy eers sy uitvoerende burgemeester versoek om ’n verslag en aanbeveling oor die aangeleentheid aan die raad voor te lê:
(a)enige aangeleentheid genoem in artikel 160(2) van die Grondwet;
(b)die goedkeuring van ’n geïntegreerde ontwikkelingsplan vir die munisipaliteit en wysigings van gemelde plan;
(c)die aanstelling en diensvoorwaardes van die munisipale bestuurder en ’n bestuurder wat direk rapporteer aan die munisipale bestuurder.
(7)Geen verordening mag deur die raad aangeneem word nie, tensy;
(a)daar redelike kennis aan al die raadslede gegee is; en
(b)die voorgestelde verordening vir openbare kommentaar gepubliseer is.
(8)Indien meer as ’n kwart van die raadslede beswaar maak teen die verlening van goedkeuring aan ’n raadslid om:
(a)’n party by of bevoordeelde kragtens ’n kontrak wees vir—
(i)die verskaffing van goedere of dienste aan die munisipaliteit; of
(ii)die verrigting van enige werk buiten as raadslid aan die munisipaliteit;
(b)’n finansiële belang in enige sake-onderneming van die munisipaliteit verkry; of
(c)vir ’n fooi of ander oorweging ten behoewe van enige persoon voor die raad of komitee verskyn;
mag sodanige goedkeuring slegs aan die raadslid gegee word met die goedkeuring van die LUR.

20. Onbestrede sake

(1)Wanneer ’n vergadering minstens een uur aan die gang is, kan die speaker die verrigtinge onderbreek en gelas dat die raad onverwyld daartoe oorgaan om onbestrede sake af te handel.
(2)Na die afhandeling van sodanige sake moet die vergadering hervat word op die punt waar dit onderbreek is, tensy alle oorblywende sake tot die volgende vergadering uitgestel is.
(3)’n Item op die sakelys word geag ’n onbestrede saak te wees as ’n raadslid te kenne gee dat hy van voornemens is om sodanige item te bespreek onmiddellik nadat die speaker aan die vergadering te kenne gegee het dat sodanige item oop is vir bespreking, met dien verstande dat geen item geag word bestrede te wees slegs omrede vrae vir toeligting in verband daarmee gestel word nie.

21. Herroeping van besluite

(1)Indien ’n raadlid kennis wil gee van sy voorneme om die herroeping of wysiging van ’n besluit (of deel daarvan) aan die raad voor te stel, moet hy sodanig kennis gee deur ’n skriftelike kennisgewing van voorstel by die munisipale bestuurder af te lewer, welke kennisgewing van voorstel deur sodanige raadslid onderteken en gedateer moet wees en waarin hy moet meld op watter vergadering van die raad dit aangehoor moet word, en moet dit minstens ses werkdae voor genoemde vergadering by die munisipale bestuurder afgelewer word. In sodanige kennisgewing van voorstel moet daar verder vermeld word dat die voorsteller sal voorstel dat die bestaande besluit (of deel daarvan) in hersiening geneem word vir die doel van wysigings of herroeping, na gelang van die geval, en dat die voorsteller verder sal voorstel dat dit herroep of gewysig word, na gelang van die geval, met vermelding, in die geval van ’n wysiging, van die presiese wysigings wat verlang word.
(2)Indien ’n komitee besluit het om by die raad aan te bevel dat ’n besluit (of deel daarvan) van die raad herroep of gewysig word, moet kennis van voorneme om sodanige herroeping of wysigings voor te stel, gegee word deur sodanige aanbeveling in te sluit by ’n verslag van die komitee aan die raad, en die munisipale bestuurder moet ’n kopie van sodanige verslag aan elke raadslid stuur, by die adres wat sodanige raadslid aan die munisipale bestuurder moet verstrek vir die doel van die aflewering van amptelike mededelings, om hom/haar minstens twaalf uur voor die vergadering waarop die aanbeveling oorweeg sal word, te bereik. Die kopieë van sodanige verslag wat aldus aan alle raadslede gestuur word, of dokumente wat dit vergesel, moet aandui op watter vergadering sodanige verslag oorweeg sal word.
(3)Uitgesonderd op aanbeveling van ’n komitee mag ’n besluit (of deel daarvan) nie op enige vergadering van die raad op hersiening geneem word nie, tensy die toestemming van die meerderheid van die raadslede wat op sodanige vergadering teenwoordig is, verkry is.
(4)Daar mag geen debat oor sodanige voorstel tot hersiening gevoer word nie, behalwe dat die raadslid of die voorsitter van die komitee wat kennis gee, die reg het om kortliks die redes daarvoor te vermeld.
(5)Indien die raad ’n bestaande besluit wil herroep, wysig of ’n besluit strydig met die bestaande besluit wil neem, moet sodanige herroepingsbesluit geskied ooreenkomstig subparagraaf 19(3) van die verordening.

Deel 5 – Toegang vir publiek

22. Toelating van publiek

Die speaker moet redelike stappe doen om toegang vir die publiek tot en gedrag van die publiek op vergaderings te reguleer.

23. Nie-openbaarmaking van aangeleenthede

(1)Wanneer die munisipale bestuurder na sy of haar goeddunke enige aangeleentheid voorlopig op ’n deel van die sakelys geplaas het wat nie voor die vergadering aan die publiek openbaar gemaak sal word nie, moet die speaker, wanneer sodanige aangeleentheid oorweeg gaan word—
(a)gelas dat alle lede van die publiek en die media die vergaderlokaal verlaat; en
(b)gelas dat die raad oorweeg of dit redelik sal wees as enige van of al die items op sodanige deel van die sakelys oorweeg word sonder die teenwoordigheid van die publiek en die media, met behoorlike inagneming van die bepalings van die Grondwet, wat vereis dat die publiek en die media van ’n vergadering uitgesluit kan word slegs as dit redelik is om dit te doen met inagneming van die aard van die sake wat oorweeg word.
(2)Die motivering vir die uitsluiting van die publiek moet volledig genotuleer word.
(3)Enige items waarvan die publiek nie uitgesluit sal word nie, word oorweeg onmiddellik na die prosedure in subparagraaf 23(1) van die verordening uiteengesit.

24. Uitsluiting van die publiek en media van vergaderings

(1)Die publiek, insluitende die media, kan van die vergadering uitgesluit word—
(a)waar die speaker dit ingevolge subparagraaf 23(1)(a) van die verordening gelas, of
(b)waar die raad dit ingevolge subparagraaf 24(3) van die verordening besluit.
(2)Indien sodanige mosie gesekondeer word, moet dit onverwyld en sonder bespreking tot stemming gebring word.
(3)Indien sodanige mosie aangeneem word na behoorlike oorweging deur die raad van die redes wat aangevoer is, moet alle lede van die publiek, insluitende die media, die vergaderlokaal verlaat.

25. Hertoelating van publiek en media tot vergadering

(1)’n Raadslid kan in die loop van die vergadering waarvan die publiek en die media uitgesluit is, voorstel "dat die vergadering weer oopgestel word" met vermelding van die redes vir sodanige mosie.
(2)Indien sodanige mosie gesekondeer word, moet dit onverwyld en sonder bespreking tot stemming gebring word.

26. Uitnodiging aan nie-lid

Die speaker kan ’n persoon wat nie ’n raadslid is nie, nooi om die raad toe te spreek of om ’n vergadering by te woon ten einde sy of haar menings oor ’n aangeleentheid voor die raad te stel.

27. Afvaardigings

(1)’n Individu of afvaardiging wat ’n onderhoud met die raad verlang, moet aan die munisipale bestuurder skriftelik kennis gee van sy of haar versoek en moet besonderhede verskaf van die inhoud van die beoogde onderhoud.
(2)Die munisipale bestuurder moet ’n kennisgewing met die inhoud vermeld in subparagraaf 27(1) van die verordening tesame met sy of haar kommentaar en aanbevelings aan die speaker voorlê, wat kan besluit om ’n onderhoud toe te staan of te weier, en op watter voorwaardes.
(3)’n Afvaardiging mag uit hoogstens 10 lede bestaan, uitgesonderd met die toestemming van die speaker of in antwoord op vrae en raadslede mag net twee lede van ’n afvaardiging die vergadering toespreek.
(4)Uitgesonderd met die toestemming van die speaker mag ’n lid van ’n afvaardiging of ’n individu, na gelang van die geval, die vergadering nie langer as tien minute toespreek nie.

Deel 6 – Orde op vergaderings

28. Gedrag van nie-lede en lede van die publiek

Indien ’n nie-raadslid of lid van die publiek hom of haar aan wangedrag skuldig maak, op ’n onbehoorlike wyse gedra of die sake van enige vergadering belemmer, kan die speaker gelas dat hy of sy uit die vergaderlokaal verwyder word.

29. Gedrag van raadslede

(1)Indien ’n raadslid—
(a)hom of haar aan wangedrag skuldig maak, of
(b)hom of haar op ’n onbehoorlike wyse gedra, of
(c)die sake van enige vergadering belemmer, of
(d)die beslissing van die speaker oor enige punt van orde of beslissing ingevolge subparagraaf 5(1) van die verordening uitdaag, of
(e)weier om enige uitdrukking terug te trek wanneer die speaker daarop aandring, of
(f)hom of haar oorgee aan langdradige herhaling of onbehoorlike taalgebruik, of
(g)enige bepaling van hierdie verordening oortree,
moet die speaker gelas dat sodanige raadslid hom of haar behoorlik gedra en, indien hy of sy aan die woord is, om sy of haar redevoering te staak.
(2)In die geval van ’n voortdurende verontagsaming van die lasgewings van die speaker moet die speaker sodanige raadslid gelas om die vergadersaal vir die res van die vergadering te verlaat en kan hy of sy, indien nodig, sodanige raadslid uit die lokaal laat verwyder.
(3)Die raad mag die LUR versoek om ’n raadslid, wat die sake van ’n vergadering doelbewus belemmer deur die reëls van hierdie verordening te verontagsaam, vir ’n tydperk tydelik of permanent te skors.

30. Misdrywe

Enige raadslid, nie-raadslid of lid van die publiek wat—
(a)weier of versuim om te voldoen aan ’n lasgewing van die speaker opgelê ooreenkomstig paragrawe 28 en 29 van die verordening; of
(b)na die vergaderlokaal terugkeer voor die afsluiting van die vergadering waaraan hy of sy gelas is om te onttrek; of
(c)weerstand bied terwyl hy of sy uit die vergaderlokaal verwyder word
begaan ’n misdryf en is by skuldigbevinding strafbaar met ’n boete of gevangenisstraf vir ’n tydperk van hoogstens ses maande.

Deel 7 – ReËls vir debatvoering

31. Raadslid spreek stoel aan

’n Raadslid wat op ’n vergadering praat, moet die stoel aanspreek en kan dit doen in enige van die drie amptelike tale van die Provinsie Wes-Kaap.

32. Orde van prioriteit

Wanneer ’n raadslid die raad wil toespreek, moet hy of sy eers die speaker se toestemming kry.

33. Voorrang van speaker

Wanneer die speaker die vergadering toespreek, moet alle raadslede stilbly sodat die speaker sonder onderbreking aangehoor kan word.

34. Relevansie

(1)’n Raadslid wat aan die woord is, moet sy toespraak streng bepaal by die onderwerp of aangeleentheid onder bespreking of by ’n verduideliking of ’n punt van orde.
(2)Geen bespreking word toegelaat—
(a)wat enige aangeleentheid op die sakelys sal vooruitloop nie;
(b)oor enige aangeleentheid ten opsigte waarvan ’n besluit deur ’n geregtelike liggaam of ’n kommissie van ondersoek hangende is nie.

35. Reg om te praat

’n Raadslid mag net een keer praat—
(a)oor die aangeleenthied voor die raad;
(b)oor enige mosie voor die raad;
(c)oor enige amendemente van die aangeleentheid voor die raad;
(d)oor ’n aangeleentheid of ’n amendement wat hy of sy self voorgestel het of gaan voorstel;
(e)oor ’n punt van orde of ’n saak van voorreg,
tensy deur die speaker gemagtig of soos in hierdie reëls voorsiening gemaak.

36. Duur van toesprake

(1)Uitgesonderd met die toestemming van die speaker mag geen raadslid langer as vyf minute oor enige onderwerp (of aangeleentheid) praat nie.
(2)Die voorsteller van ’n oorspronklike mosie of van enige amendement kan egter vyf minute lank oor sodanige mosie of amendement praat.

37. Herindiening van mosie van vraag

Geen mosie wat deur die raad verwerp is en geen vraag wat ingevolge die reëls gestel is en afgehandel is op enige vergadering, mag weer ingedien of gestel word nie binne ’n tydperk van drie maande na sodanige vergadering, uitgesonderd met die toestemming van die speaker.

38. Kennisgewing van mosie

(1)Die speaker mag geen mosie, uitgesonderd ’n dringende mosie of ’n mosie van orde, aanvaar nie tensy kennis daarvan ingevolge subparagraaf 38(2) van die verordening gegee is.
(2)Elke kennisgewing van voorneme deur ’n raadslid om ’n mosie in te dien, moet skriftelik wees, onderteken en gedateer wees en aan die munisipale bestuurder gelewer word minstens ses werksdae voor die datum van die vergadering waarop dit gestel gaan word.

39. Kennisgewing van vraag

(1)Behoudens paragraaf 43 van die verordening mag die speaker geen vraag aanvaar nie tensy kennis daarvan ingevolge subparagraaf 39(2) van die verordening gegee is.
(2)Elke kennisgewing van voorneme deur ’n raadslid om ’n vraag te stel, moet skriftelik wees, onderteken en gedateer wees en aan die munisipale bestuurder gelewer word minstens ses werksdae voor die datum van die vergadering waarop dit gestel gaan word.

40. Afwesigheid van voorsteller of vraesteller

Indien die voorsteller of vraesteller nie in sy plek teenwoordig is nie op die vergadering van die raad wanneer hy of sy deur die speaker versoek word om ’n mosie in te dien of ’n vraag te stel wat op sy of haar naam op die sakelys verskyn. Verval sodanige mosie of vraag tensy die oorspronklike voorsteller of vraesteller die speaker in kennis gestel het van ’n plaasvervanger om die mosie in te dien of die vraag te stel.

41. Mosies of vrae oor aangeleenthede deur komitee hanteer

(1)’n Raadslid mag nie kennis van ’n mosie of vraag gee met betrekkng tot enige aangeleentheid wat aan ’n komitee opgedra is nie, tensy sodanige mosie of vraag voorheen aan sodanige komitee voorgelê is of tensy dit in die vorm is van ’n verwysing na sodanige komitee vir oorweging en verslagdoening.
(2)Die voorsitter van ’n komitee kan, indien hy of sy van mening is dat die aangeleentheid dringend is, kennis gee van sy of haar voorneme om ’n mosie in te dien of ’n vraag te stel oor ’n aangeleentheid wat aan sodanige komitee opgedra is, ondanks die feit dat sodanige mosie of vraag nie vooraf deur sodanige komitee oorweeg is nie.

42. Aanbeveling van komitee as mosie beskou

(1)Die aanvaarding van ’n aanbeveling vervat in ’n verslag wat deur ’n komitee aan die raad voorgelê is, word geag deur die voorsitter van sodanige komitee voorgestel te wees of, in sy of haar afwesigheid of wanneer hy of sy sodanige aanbeveling teenstaan, deur ’n raadslid van sodanige komitee deur hom of haar afgevaardig om waar te neem wanneer die speaker van die vergadering te kenne gee dat sodanige aanbeveling oop is vir bespreking, en geen sodanige mosie hoef gesekondeer te word nie, en die voorsitter van sodanige komitee mag ook nie verhinder word om sy reg om daaroor te praat, uit te oefen nie.
(2)Die voorsitter in subparagraaf 42(1) van die verordening bedoel, kan egter oor die aangeleentheid praat en repliek lewer, maar in sy of haar repliek moet hy of sy hom of haar streng bepaal by antwoorde aan vorige sprekers en mag hy of sy geen nuwe aangeleenthede in die debat invoer nie.

43. Vrae

(1)Nadat enige mosie of amendement voorgestel en gesekondeer is of na afhandeling van enige toespraak daaroor, kan ’n raadslid enige vraag stel wat tersaaklik is vir sodanige mosie of amendement.
(2)Geen aanvullende vrae mag gestel word nie uitgesonderd deur die raadslid wat die oorspronklike vraag gestel het en dan net ten opsigte van aangeleenthede voortspruitend uit die antwoord op sodanige oorspronklike vraag.
(3)Die speaker mag geen sodanige vraag weier nie: met dien verstande dat die raadslid aan wie sodanige vraag gerig is, onverwyld daarop kan antwoord of kan vereis dat kennis daarvan ingevolge subparagraaf 39 gegee word.

44. Dringende mosie

(1)’n Raadslid kan die aandag van die raad vestig op enige aangeleentheid wat nie op die sakelys verskyn nie en waarvan daar nie vooraf kennis gegee is nie, deur kortliks die onderwerp van die aangeleentheid te meld en sonder kommentaar daarop voor te stel "dat die mosie waarop die aandag gevestig is, onverwyld oorweeg word as ’n kwessie van dringendheid".
(2)Sodanige mosie word hierin ’n dringende mosie genoem.
(3)Indien sodanige mosie gesekondeer word en aangeneem word deur ’n meerderheid van die raadslede teenwoordig, moet die voorsteller toegelaat word om die aangeleentheid sonder kennis deur middel van ’n mosie of vraag tot oorweging te bring.

45. Mosies van orde

Benewens die mosies waarvoor elders in hierdie reëls voorsiening gemaak word, word die volgende as mosies van orde beskou:
(i)dat voorrang verleen word aan die oorweging van enige bepaalde item wat op die sakelys verskyn;
(ii)dat daar kennis geneem word van enige verslag in die sakelys vermeld, of dat dit aangeneem of terugverwys word of dat daar aan die verslag uitvoering gegee word;
(iii)dat daar uitvoering gegee word aan enige dokument voor die raad op die wyse in die mosie vermeld;
(iv)dat stappe gedoen word met betrekking tot enige item wat vir oorweging voorgelê is, op die wyse in die mosie vermeld.

46. Punt van orde

’n Raadslid kan ’n punt van orde opper om die aandag te vestig op ’n afwyking van hierdie reëls deur die bepaalde reël te noem waarop sodanige raadslid hom of haar beroep, waarna sodanige raadslid onmiddellik gehoor verleen moet word.

47. Punt van verduideliking

Die speaker kan ’n raadslid toelaat om ’n punt van verduideliking te opper: met dien verstande dat sodanige verduideliking beperk moet word tot ’n wesentlike deel van die debat wat moontlik misverstaan is.

48. Terugtrekking van mosie, amendement of vraag

(1)’n Mosie of amendement kan sonder bespreking en met die toestemming van die sekondeerder en die raad deur die voorsteller teruggetrek word.
(2)’n Raadslid mag nie oor sodanige mosie of amendement praat nadat die raad tot die terugtrekking van sodanige mosie ingestem het nie.
(3)’n Vraag kan teruggetrek word deur die raadslid wat dit wou gestel het.

49. Speaker se beslissing oor punte van orde en verduideliking

(1)Die beslissing van die speaker oor ’n punt van orde of verduideliking is finaal en nie oop vir bespreking nie.
(2)Die beslissing van die speaker oor ’n punt van orde wat oor die vertolking van hierdie reëls geopper is, moet in die notule aangeteken word.

50. Volgorde van bespreking

Wanneer ’n mosie onder bespreking is op enige vergadering van die raad, mag geen verdere mosie ontvang word nie, uitgesonder die volgende:
(1)dat die mosie geamendeer word;
(2)dat die oorweging van die aangeleentheid uitgestel word;
(3)dat die publiek en media uitgesluit word;
(4)dat die publiek en media weer toegelaat word;
(5)dat die raad nou verdaag;
(6)dat die raad vir ’n bepaalde tyd verdaag;
(7)dat die debat verdaag word;
(8)dat die aangeleenteheid tot stemming gebring word;
(9)dat die raad na die volgende saak oorgaan.

51. Dat die mosie geamendeer word

(1)Elke amendement moet tersaaklik wees vir die mosie waarop dit voorgestel word.
(2)’n Amendement moet, indien die speaker dit verlang, skriftelik en deur die voorsteller onderteken wees en aan die speaker oorhandig word.
(3)’n Amendement moet gelees word voordat dit voorgestel word.
(4)’n Amendement mag nie bespreek of aan die raad gestel word voordat dit gesekondeer is nie.
(5)As daar meer as een amendement op ’n mosie is, word die amendement wat laaste ingedien is, eerste tot stemming gebring, en as dit aangeneem word, word die aangeleentheid dienooreenkomstig afgehandel.
(6)Indien die amendement wat laaste ingedien is, verwerp word, word die amendement wat onmiddellik voor die laaste amendement ingedien is, tot stemming gebring.
(7)Geen verdere amendement op ’n mosie of amendement mag ingedien word nadat die speaker begin het om sodanige mosie of amendement tot stemming te bring nie.

52. Dat die oorweging van die aangeleentheid uitgestel word

(1)’n Raadslid kan aan die einde van ’n toespraak voorstel dat die oorweging van die aangeleentheid uitgestel word tot ’n bepaalde of onbepaalde datum.
(2)Sodanige mosie moet gesekondeer word maar hoef nie skriftelik te wees nie: met dien verstande dat die sekondeerder nie toegelaat mag word om te praat nie. Die voorsteller moet toegelaat word om vir ’n tydperk van hoogstens vyf minute oor die mosie te praat, en die sekondeerder mag nie, behalwe om die mosie te sekondeer.
(3)Wanneer so ’n mosie voorgestel word, kan die voorsteller van die aangeleentheid onder bespreking (sonder benadeling van sy of haar uiteindelike reg op repliek indien die mosie dat die aangeleentheid uitgestel word nie aanvaar word nie) vyf minute lank repliek lewer, uitgestel word, nie aanvaar word nie) vyf minute lank repliek lewer, waarna die mosie sonder verdere bespreking tot stemming gebring word.
(4)Indien die mosie aanvaar word, moet die aangeleentheid eerste geplaas word op die sakelys van aangeleenthede wat oorweeg moet word op die vergadering waartoe dit uitgestel is: met dien verstande dat subparagrawe 8(2) en 8(3) van die verordening nie op sodanige aangeleentheid van toepassing is nie.

53. Dat die raad tot ’n ander datum verdaag

(1)’n Raadslid kan te eniger tyd, uitgesonderd in die loop van ’n toespraak deur ’n ander raadslid of terwyl daar gestem word, voorstel "dat die raad nou tot ’n datum verdaag".
(2)Sodanige mosie moet gesekondeer word maar hoef nie skriftelik te wees nie.
(3)Die voorsteller moet toegelaat word om vir ’n tydperk van hoogstens vyf minute oor die mosie te praat, maar die sekondeerder mag nie praat nie behalwe om die mosie te sekondeer.
(4)Indien die mosie aanvaar word, moet die raad onverwyld verdaag: met dien verstande dat die speaker kan gelas dat die vergadering voortgaan om eers onbestrede sake af te handel.
(5)Indien die mosie nie aanvaar word nie, mag die speaker nie nog so ’n mosie aanvaar nie totdat ’n halfuur verstryk het.
(6)Uitgesonderd soos in subparagraaf 31(3) bepaal, mag geen bespreking oor sodanige mosie toegelaat word nie, behalwe dat ’n raadslid wat dit eerste aangedui het, hoogstens vyf minute lank teen die mosie kan praat.
(7)Geen amendement op sodanige mosie mag voorgestel word nie, uitgesonderd met betrekking tot die tydperk van verdaging.
(8)Indien ’n mosie om ’n vergadering te verdaag aanvaar is gedurende ’n debat en voor die afhandeling daarvan, na oorweging van die aangeleentheid wat die onderwerp van sodanige bespreking op die verdaagde vergadering sal wees, is die raadslid wat die verdaging voorgestel het, geregtig om eerste te praat.
(9)Geen sake mag op ’n verdaagde vergadering afgehandel word nie, uitgesonderd die sake wat op die sakelys van die vergadering waarvan dit ’n vergadering is, verskyn.

54. Dat die raad vir ’n bepaalde tyd verdaag

(1)’n Raadslid kan te eniger tyd behalwe in die loop van ’n toespraak deur ’n ander raadslid of terwyl daar gestem word, voorstel "dat die raad nou vir ’n bepaalde tyd, vir hoogstens een uur lank, verdaag".
(2)Sodanige mosie hoef nie skriftelik te wees nie.
(3)Indien die mosie aanvaar word, moet die raad onverwyld vir die bepaalde tyd verdaag.
(4)Die speaker kan die aantal sodanige mosies beperk.

55. Dat die debat verdaag word

(1)’n Raadslid kan aan die einde van enige toespraak voorstel dat die debat verdaag word.
(2)Sodanige mosie moet gesekondeer word, maar hoef nie skriftelik te wees nie.
(3)Die voorsteller van sodanige mosie kan vyf minute lank daaroor praat, maar die sekondeerder mag nie praat nie, behalwe om dit formeel te sekondeer.
(4)Uitgesonderd soos in subartikel (3) bepaal, mag geen bespreking oor sodanige mosie toegelaat word nie, behalwe in verband met die tydperk van verdaging en dat die raadslid wat eerste sy of haar hand opsteek vir die doel, vyf minute lank daarteen mag praat.
(5)Indien sodanige mosie aanvaar word, gaan die vergadering oor na die volgende saak op die sakelys, en die bespreking van die verdaagde debat word op die volgende vergadering hervat, tensy daar anders besluit word.
(6)Met die hervatting van die verdaagde debat is die raadslid wat die verdaging voorgestel het, geregtig om eerste te praat.
(7)Indien die mosie nie aanvaar word nie, mag die speaker nie nog so ’n mosie aanvaar nie totdat ’n halfuur verstryk het.
(8)’n Raadslid mag nie meer as een mosie vir die verdaging van die debat in die loop van daardie debat voorstel of sekondeer nie.

56. Dat die aangeleentheid tot stemming gebring word

(1)’n Raadslid kan in die loop van ’n debat, aan die einde van enige toespraak, voorstel dat die aangeleentheid nou tot stemming gebring word.
(2)Behoudens die bepalings van subparagraaf 56(3) van die verordening is geen mosie wat ingevolge subparagraaf 56(1) van die verordening voorgestel is, oop vir bespreking nie.
(3)Die voorsteller van ’n aangeleentheid onder bespreking kan, wanneer ’n mosie ingevolge subparagraaf 56(1) van die verordening voorgestel is, hoogstens vyf minute lank oor sodanige mosie praat, waarna genoemde mosie sonder enige verdere bespreking tot stemming gebring word.
▲ To the top